free css templates

liani se stories oor haar liedjies

Sterredigter

Die nag met sy sterre fassineer my nog altyd. Elke nag het sy eie gesig, en die sterre wat jy elke aand met jou oë kan sien is nie noodwendig die enigste sterre wat daar is nie. Ek verbeel my as ek na die sterrehemel kyk dat die nag ‘n skemervlies het…amper soos ‘n maagdevlies.
Agter hierdie donker vlies skuil daar soveel ligte soos klein vlammetjies. Hierdie vlammetjies kry ‘n beurt om te pronk op die nag se swart skilderdoek as hy ‘n gaatjie of ‘n poortjie kon vind om aan die anderkant van die geheimenis te kon groei.
Sterredigter gaan oor wat gebeur as mense, wat ‘n goeie oog op mekaar het, bymekaar kom en vir mekaar so poortjie maak na vryheid sodat die wat voor jou staan kan vry wees in jou oog, vry soos hulle bedoel is om te wees. (Amper soos hoe Ouma Botha na Mossie gekyk het)
Ons kom elkeen as ‘n skoon, swart papier bymekaar aan en dis die manier hoe ons na mekaar kyk en met mekaar praat wat die vermoë besit om gaatjies te kan maak in die een voor jou se “skemervlies”,sodat dit wat in hom brand, dit wat nog skuil soos ‘n skugter vlam, ‘n paadjie kan kry soos ‘n geboortekanaal om te kan skyn.
“Ek en jy is digters van die nag, en die woorde brand soos vlamme hierbinne my. Dit verlig die nag in my”.
Ons sit met sleuteltjies in ons hand om elke een voor ons te laat skyn. As ons maar net met ons oë en met ons woorde soek na die liggies wat weggesteek is binne-in die soom van die oënskynlike nag wat voor ons lê.
Ek het vier jaar geneem om hierdie lied te voltooi. Soveel keer het ek doodgetrek en van voor af begin. Dit was nogals ‘n uitdaging om die prentjie in my kop te skets met woorde sodat almal wat daarna luister sou kon verstaan wat ek bedoel.
Ek sluit die lirieke vir jou in:

STERREDIGTER:
Sterrenag is vlamme wat groei deur die nag se skemervlies;
‘n vlam wat brand word ‘n digter van die nag en laat ‘n storie ontvou
en ek onthou jou Vlam
Daars’ vlamme agter jou donker, dis dit wat die Lig nes ‘n fakkel vashou Vlamme wat soos gloeiende kole net aanhou brand
En as die donker om jou net aanhou en aanhou en die vuur in jou flikker flou is hierdie lied vir jou, sodat jy dit altyd onthou
Ek en jy is digters van die nag
en die woorde brand soos ligte hier binne my,
dit verlig die nag in my
Woorde is soos sterre, liggedigte op swart papier.
En in hierdie kosmos tussen ons lê gedigte van vuur.
As die vlamme in jou net aanhou en aanhou sal die sterlig groei en gaatjies dig tot die ligdag breek...
tot jou nuwe dag breek

Die Storie van Mossie en Ouma Botha

Ek wil jou die storie vertel van my Ouma Botha en Mossie.
My ouma, Cecilia Johanna Botha, se vierde kind, Naomi Botha, of Mossie soos almal haar genoem het, is gebore op 1 Desember 1966.
Daar was komplikasies tydens haar geboorte en almal in die teater daardie dag het gedink sy lewe nie meer nie.
Al die dokters en verpleegpersoneel het baie vinnig gewerk en gespook om Ouma Botha aan die lewe te hou en suksesvol daarin geslaag. Een van die dokters het nog ‘n keer probeer om Mossie te red en dit wel reggekry, maar in al daardie tyd in die teater was daar nie suurstof by haar brein nie en Mossie was gevolglik erg gestremd.

Al vier haar ledemate was spasties en haar skelet gevolglik snaaks belyn as gevolg van die ongemaklike posture waarin haar stywe spiere haar lyfie manipuleer het. Sy het dikwels epileptiese aanvalle gekry en haar kommunikasie en meelewing in aktiwiteite het presenteer uit ‘n leuke perspektief as die van ‘n baba van 4-6 maande. Die wat haar goed geken het en baie tyd met haar spandeer het was wel van mening dat Mossie van baie meer bewus was as wat dit lyk.
Dokters en ander slim mense het voorspel dat Mossie nooit ouer as 17jaar sou word nie. Hulle het aanbeveel dat Mossie in ‘n inrigting vir gestremdes geplaas word omdat sy medies gesproke die beste moontlike hulp onder een dak, op ‘n daaglikse basis, benodig.
Ouma en Oupa Botha het op ‘n plaas tussen Tosca en Bray(Noordwes) geboer en dit sou beteken dat Mossie in ‘n inrigting in Potchefstroom geplaas moet word en hulle haar selde sou sien. Ouma Botha het besluit om Mossie naby haar te hou en het haar nie in die inrigting gesit nie en so het die hoofstuk in haar lewe begin waar sy totaal toegewy al haar tyd neergelê het om Mossie te versorg.
Elke drie ure van elke nag het Ouma Botha vir Mossie omgedraai sodat sy nie bedsere moet kry nie.
Elke ete was ‘n koningsmaal en omdat Mossie so lief was vir soetgoed het my ouma gesorg dat Mossie elke dag van haar lewe poeding kry. Mossie se gunsteling was jellie, vla en malva-poeding. Wanneer sy dit geëet het, het sy haar tong geklap van lekkerte.

Ouma Botha het Mossie met soveel liefde en deernis versorg en nooit een dag gekla dat sy nie meer kans sien nie.
Langs Mossie se rolstoel het sy elke dag gesit met ‘n waslappie op die skoot om Mossie af te vee as sy warm kry en om haar netjies te hou vir die wat met haar kom gesels. Mossie het die pragtigste dik, pikswart bos hare gehad en porseleinwit vel. Ek dink haar vel was so mooi omdat sy byna nooit in die son gekom het nie. Ouma Botha was te jammer vir haar.
Mossie het oulike roetines gehad, soos haar 5 bere-en-poppe-combo wat my ouma later aanmekaar vasgewerk het sodat een van hulle tog nie moet verloor nie.
As Mossie saans bed toe gestoot is moes die poppe in hulle volgorde op haar bed staan en in die oggend as sy klaar aangetrek is en my ouma haar uit die kamer wil stoot, het Mossie gekla totdat die poppe op die naaldwerkmasjien staan. Mossie wou hê hulle dag moet ook begin.
My ouma en Mossie het mekaar so goed verstaan.

Mossie het my fassineer vandat ek baie klein was. My ma het dikwels vir my en Mossie dieselfde rokkies gemaak en ek onthou hoe ek as kind dikwels gedink het Mossie weet baie dinge wat ons ander nie weet nie.
Ek het een oggend wakker geword met ‘n besef dat Mossie net hierdie lewe kon lei wat sy gelei het omdat daar ‘n Ouma Botha was wat alles prysgegee en opgeoffer het sodat Mossie kon wees wie sy was.
Ouma Botha het ‘n mossiekarossie, ‘n onsienlike manteltjie, aangetrek ter wille van Mossie.
Mossie het 50jaar oud geword al het almal voorspel dat sy nie ouer as 17 sou word nie.
Ek dink wat my die meeste fassineer van Ouma Botha en Mossie is hierdie krag in hulle getuienis van totale onvoorwaardelike liefde.
Hulle het nooit vir meer gevra as wat aan hulle uitgedeel is nie, hulle het dit gevat en poeding gemaak.

Swaeltjie

Die tema van die lied gaan oor seisoene. Seisoene veral in verhoudings..die onveranderlike dat mense kom en mense gaan.
AGTERGROND OOR DIE LIED SWAELTJIE
Ek het die lied geskryf nadat ouma Dippie oorlede is. Daar was soveel mense vir wie ek so lief was wat in ‘n kort tydjie na mekaar gesterf het. In hierdie tyd het ‘n vriendin deur ‘n liefdesteleurstelling gegaan en dit alles het my laat dink dat mense in jou lewe kom in die ritme van seisoene soos die swaeltjies. Daar breek soms iets soos ‘n winter aan en dit voel of iets verander, maar dis eintlik net hoe die ritme in tyd uitspeel. Niks is ooit toevallig of verlore nie.
Dat dit wat jy dink jy verloor in die lewe sal altyd na jou toe terugkom op ‘n ander manier.
Die lied gaan oor dat die lewe verloop soos die seisoene van die swaeltjies. Daar is ‘n ritme in die teenwoordigheid van mense in ons lewe en die feit dat daar ‘n dag aanbreek wat hulle ook moet gaan. Maar soos die swaeltjies sal dit wat jy voel jy verloor het weer terugkeer, soms is dit in ‘n ander vorm as die een waarin jy verloor het, soms is dit dieselfde, maar die lewe loop vry soos die swaeltjies.
En as ek leer om die ritme te aanvaar en te vertrou is my erfdeel die Vryheid van die swaeltjies wat in my reën soos vog op ‘n droë land.

Skuiling

Die liedjie handel oor die plek langs my pa in die Ford wat my Skuiling is en nog altyd was. Op hierdie plek is daar min woorde gepraat maar die spasie was altyd vertroostend en onvoorwaardelik. Hierdie spasie kon my pa vir my skep al vorm hy deel van ‘n generasie mans wat nie altyd so spasie gehad het waar hulle met vrymoedigheid al hulle emosie kon wys nie.
Agtergrond oor die lied Skuiling
Die plek langs my pa in die Ford is vir my ‘n heilige ruimte. Daar is soveel voorspelbaarheid in daardie ruimte, maar nie op ‘n ‘boring’ manier voorspelbaar nie. Dis ‘n tipe vertroostende voorspelbaarheid.
Op die ritme en skommeling van daardie Ford se dreuning is daar ‘n verhouding wat gevorm het tussen my en my pa. Die vaardigheid en vreesloosheid waarmee my pa dinge in daardie Ford doen laat dikwels ‘n glimlag op my gesig. Soos wanneer hy ‘n bees jaag en oor die klein doringboompies ry wat in sy pad is, of wanneer ek die geel Winnie the pooh glasie sien in die selfgemaakte ‘cup holder’ langs die stuurwiel of wanneer hy ‘n hek liggies oopstamp as ons darem net te lekker ry en daar nie nou tyd is vir uitklim nie.
My pa is enig in sy soort. Sy woord is sterker as yster. As hy gesê het hy is daar dan kan jy maar weet hy sal daar wees. Sy aanslag is nooit emosioneel nie, maar in sy sensitiewe oë kan jy sien wat hy voel.
Hy is die enigste seun gewees wat ‘n groot beesboerdery sou oorneem, maar in sy hart is hy ‘n ingeneur wat die heeltyd besig is om dinge te ontwerp en te bou wat met ysters te make het. Hy wou graag na skool gaan studeer het, maar in sy era was plaaskinders na skool ingewag by die familie se boerdery. Hy het gaan boer en maar altyd so tussendeur die boerdery deur met yster dinge ontwerp en gebou. Ek dink my pa is baie slim.
Skuiling gaan daaroor dat ten spyte van die feit dat my pa nie ‘n ruimte gehad het waar hy as man kon sê hy is bang of kon hoor dat almal trots is op hom nie, ten spyte daarvan het hy steeds vir my hierdie tent geword waar ek kan indring en rus.
Die eerste keer toe ek vir my pa die lied Skuiling speel het hy net opgestaan van die kombuistafel af en uitgestap by die deur. Ek het geglimlag in my binnekant omdat ek hom nou goed ken teen die tyd. Die feit dat hy niks emosioneel sê nie beteken nie dit raak hom nie, het ek myself herinner.
Na ‘n paar oomblikke het hy weer ingestap by die kombuis met die Ford se sleutels in sy hand en toe vra hy:”Wil jy gou saamkom beeste toe?”
Dit was die mooiste kompliment. Hierdie lied is geskryf vir my pa.
Ek sluit die lirieke in:

Skuiling
Vir Pa geskryf deur Liani Reynolds
My skuiling was aan jou sy
as ons smôrens vroeg met die Ford na die stofplaas ry
Dan word jy my tent waarbinne ek indring en rus
En die wind en die weer sal nie my tent laat skeur nie.
Jys’ altyd dieselfde vir my. Jys’ altyd dieselfde vir my.
Soos die Suiderkruis, het jy my stil-stil gerig.
Sommerso as ons deur die veld ry
en jy my wys waar rosyntjiebos bly
Dan word jy my tent waarbinne ek indring en rus
en die wind en die weer sal nie my tent laat skeur nie,
jys’ altyd dieselfde vir my, jys’ altyd dieselfde vir my.
Maar soms het ek gewonder of jou, of jou vinkiehart brand?
Of jy nie brand om te hoor nie, dat iemand moet sê:
“Ons wou nooit ‘n ander seun hê nie”.
Maar jy word steeds my tent, waarbinne ek indring en rus
en die wind en die weer, en die wind en die weer
en die wind en die weer
sal nie my tent kan skeur nie

Ruimte

Die lied is geskryf vir my skoonpa, Percy Reynolds. Die liedjie is ‘n getuigskrif van die mens wat hy was, ‘n wye ruimte waar almal kon wees wie hulle is.
Agtergrond oor die lied
Dit was die aanvang van die voorbereidings vir die nuwe album. Die eerste lied wat ek vir Jacques de Viliiers gestuur het om na te luister was hierdie liedjie Ruimte. Ons het die naweek van die 17de Julie by my skoonpa hulle op die plaas naby Murraysburg in die Karoo gaan kuier. Na ‘n heerlike naweek saam het ons die Sondag oggend vir oulaas koffie saamgedrink voordat ons die pad terug huis toe aandurf. My skoonpa skerts toe en sê hy wonder watter lied gaan ek vir hom skryf op die album en dat ek vir hom hierdie nuwe liedjie moet sing wat ek geskryf het.
Na ek die liedjie gesing het en almal se koffie op was het ons kar toe gestap om te groet. Oppad kar toe het my skoonpa ‘n hartaanval gekry. Hy is oorlede op die 17de Julie.
Hy het ‘n wysheid met hom saamgedra wat my altyd verstom het. En toe ek die dag na sy dood weer die lirieke gaan lees van die lied Ruimte het ek besef hierdie is sy lied. Dit beskryf wie hy is. Ek het die lied aan hom opgedra en dit weer by sy begrafnis gesing ‘n paar dae later. Die week nadat hy begrawe is is daar heel “toevallig” ‘n muur opgerig van ‘n plek buitekant Bloemfontein. Dis op die pad wat my skoonsussie elke dag werk toe gery het, Die woord op hierdie muur was “RUIMTE”
Louis Percy George Reynolds was ‘n liefdevolle pa vir sy ses kinders en ook vir ons wat later bygekom het. Sy grenslose ruimte vir almal om hom het my geleer dat elke mens die reg het om geag te word vir wie hy is. Hy het altyd soveel wysheid en lig gehad oor so baie dinge. Ek het hom altyd persue en by sy voete gesit oor ek so graag altyd wou hoor hoe hy dink. Hierdie was nie net vir my die geval nie maar vir almal wat hom geken het.
Die lirieke beskryf wie hy is:

Ruimte
Vir Pa Percy geskryf deur Liani Reynolds
Oneindige heelal vol geheimenis
Jou marmerblou albaster dryf so ver van my gesig
Ek wil jou graag leer ken, jou einde en begin,
en ek kom dan bietjie nader en jou oopte nooi my in En ek soek jou lig
wat in die donker vir my wink
In die ruimte tussen ons
is daar geen grense, geen gewig
Die Melkweg aan my sy, my ontdekkingstog
Ver op ‘n blou planeet het siele soms vergeet
dat hul eintlik ontdekkers is wat geheimenisse weet
En as ek naderkom
dan sien ek in jou oë
die grenslose ruimte waar sieners weer kan glo
En ek soek jou lig… 

So baie dinge

Ek sing al vandat ek baie klein is en my grootste droom was eintik maar nog altyd om op enige manier met musiek te doen te hê. Ek is ‘n plaaskind in murg en been en het grootgeword op ‘n klein plekkie met die naam Piet Plessis. My ouers boer steeds daar. Waar ek grootgeword het is geen teerpaaie of winkels nie, behalwe Kadebis winkel wat ‘n klein winkeltjie was met al die broodnodige dinge vir almal wat in die omgewing gebly het. My ma hulle gaan nou nog een maal ‘n maand Vryburg toe om kruideniers te gaan koop of wanneer my pa die beeste vendusie toe vat.
My ouers en die manier en omstandighede waarin ek grootgeword het, het ‘n groot rol gespeel in hoe baie van die liedjies gevorm is, so dis vir my belangrik om hulle aan jou bekend te stel
My pa en oupa het ‘n boere-orkes gehad, my oupa het konsertina gespeel en my pa trekklavier en orrel en somtyds kitaar as dit sou nodig wees. Nie een van hulle het ooit een musiekles gehad nie. Nadat my ma en pa getroud is het my ma ook soms in die orkes gespeel en uitgehelp op die orrel, die trekklavier en die dromme( hierdie is steeds snaaks vir my, as jy my ma ken sal jy verstaan)
Ek het as babatjie so in die orrel se deksel geslaap as hulle speel by danse, en musiek was altyd oral in ons huis.
‘n Tipiese Saterdagaand sal wees as my pa ‘n klein gasbraaiertjie gaan haal, koerante uitgooi op my ma se ‘novilon’ vloer sodat die braaier nie die vloer beskadig nie en ‘n worsie braai in die groot kombuis op die plaas. Elkeen van ons, ek en my twee ouer broers, kry dan ‘n instrument en die wat nie iets kan speel nie kry twee lepels vir perkussie of ‘n rasper en ‘n lepel, wat jy later baie kundig kan bespeel
Ek was ‘n vreeslike skaam dogtertjie en wou nooit onnodige aandag op myself vestig nie. Dit sou my so goed pas om net ongesiens verby te gaan as ek by plekke aankom, maar my huis waarin ek grootgeword het was nie mense wat hulle gesteur het aan ‘trends’ en of ander mense sou dink dis goed genoeg of nie…wat eintlik so mooi eienskap is.
Kom ek probeer mooier verduidelik of die prentjie vir jou skets:
My pa ry net Ford F100 bakkies. Daardie ou groot Fords wat soos ‘n skip lyk as hy van voor af kom. My pa ry hulle steeds. Hy het drie Fords, een waarmee hy in die ruig veld ry op die plaas en oor klein doringboompies jaag wat in die pad staan as hy ‘n bees soek, of as hy beeste gaan kosgee, die tweede Ford het nie ‘n canopy nie en word gebruik om Piet Plessis toe mee te gaan of Vryburg toe om beeste vendusie toe te vat met ‘n waentjie wat my pa self gemaak het. Die derde Ford is die grand ene waarmee ons see toe gaan of dorp toe. Ons het hierdie Ford genoem die groen Ford, hy het op ‘n tyd ‘n groen streep langs die kant gehad en my ma het vir hom oulike groen gordyntjies gemaak sodat as jy ver pad in die canopy ry, dat die son jou nie brand nie.
My pa is baie slim met enjins so hy hou hierdie Fords al soveel jare in stand en maak oulike plannetjies om hulle aan die gang te hou (byvoorbeeld een van hulle start met ‘n teelepel. Ek lag elke keer as hy dit doen.)
Ek gaan die see-toe-gaan avontuur vir jou as voorbeeld gee dan sal jy ‘n goeie verstaan kry van hoe die Dippenaars van Piet Plessis rol.
Ons familie gaan Hartenbos toe al vandat ek 1 jaar oud is, elke jaar. Ons het ‘n familie-huis daar. Die week voor die groot dag wat ons see toe ry word daar honderde kilogramme(nie regtig nie,maar dit voel verseker so!) soetkoekies en vlakoekies gebak en Elsie, voor wie ek grootgeword het, kom help elke jaar met die uitdruk van die vla-koekies, met ‘n ou mosterdblikkie.
Ouma Dippie (my pa se ma) het elke jaar saamgegaan. Sy het die dag voor die tyd na ons huis gekom en elke jaar op presies dieselfde plek aan die kombuistafel gesit en gaar hoender ontbeen en appelkooskonfyt en kaas toebroodjies gesmeer. Almal het geweet dis haar werk vir die see toe gaan trippie. My ma het frikkadelle gemaak, water en koffie en beskuit in ‘n mandjie gesit. Elke jaar was hierdie dieselfde.
Die Ford word die aand voor ons ry swaar gelaai en ‘n waentjie wat my pa self, baie netjies, gemaak het word gehak.
Op hierdie waentjie word alles denkbaar gelaai wat mense nodig het om ‘n ander huis so bekend soos sy eie huis te laat voel.
Die waaier. Die kitaar wat in die blom-denim lapsak is wat my ma self gemaak het, koelbokse vol gevriesde vleis- slaggoed van die plaas, my pa se groot trekklavier wat onherkenbaar skuil in ‘n ekstra groot koshuiswasgoedsak. Dan was daar die bekende swart seilsak wat eintlik gebruik word deur ‘n bruidegom om sy troupak in te bêre, maar vir die Hartenbos vakansie is hierdie lang sak dik gestop met kussings van verskillende digthede net om te verseker almal slaap lekker by die see.
Iewers tussen die bokse kruideniers sou jy ook ‘n baie styfgestopte boontjievormige kussinkie gekry het (My ma s’n was in ‘n fyn pers blommetjie lap, ouma dippie het ‘n bloue gehad.) Hierdie kussinkie het in ons huis bekend gestaan as die kameeldrol. En dis beskryf deur jonk en oud sonder om eers ‘n oog te knip of asof jy nou ‘n lelike woord gesê het. Hierdie kussingkie was ‘n vrou se beste vriend in ons huis omdat dit jou ingedraaide hare se vorm beskerm het as jy snags slaap. Op hierdie manier kon my ma en my ouma se hare altyd met min moeite reggekam word die volgende dag en dan styfgespuit word met die bekende groen blik fiesta hairspray.
Ouma Dippie se houtstofie was altyd in die hoek van die waentjie. Hierdie houtstofie was haar trappie om in en uit die Ford te klim, en later, is haar elektriese rystoel met dik wiele ook bygevoeg. Hierdie stoel, wat my pa self ontwerp en gemaak het, was sodat sy ook op die strand kon ry en by ons sit toe haar knieë nie meer sterk genoeg was nie.
Dit was die oulikste prentjie as ons strand toe gaan en my pa haar letterlik laat sak het op ‘n spoor agter uit die canopy van die Ford. Sy het statig gesit op daai stoel met haar netjies gedoende hare, styf gespuit vir beskerming teen die sterk wind aan die kus, met ‘n Huisgenoot op die skoot. Aan die armleuning het my pa ‘n ring vasgeswys waarin haar goudgeel sambreel soos ‘n wafferse gousblom in ‘n blompot gepronk het.
Die bagasie en huisraad en musiek-instrumente op die oop waentjie is bedek met ‘n helder blou seil wat my pa in elk geval gehad het en alles is stewig vasgemaak met ‘n rooi nylontou.
Ek is seker jy het die prentjie in jou kop
So baie dinge is ‘n liedjie wat gebore is uit my besef dat hierdie andersheid of uniekheid van my familie en waar ek vandaan kom juis is hoe my hemel lyk wat aarde toe gekom het. Ek glo dat daardie hemel of lig weggesteek is in elke stukkie realiteit hier op aarde. Die klein dingetjies wat eg is. So, as my pa maar net probeer wees het soos almal sou ek nie die waarde van om eg en tevrede te wees met jouself besef het nie. Daar was ‘n vreugde in my huis en in hierdie snaakse goed waaroor ek van lekkerkry net soms lag. Ek het soveel sulke voorbeelde maar ek is seker jy kry die idee.
Die lied praat van my pa se oë as hy trekklavier speel. My pa is glad nie iemand wat met sy emosie op sy skouer loop nie. Die aanslag met my as sy enigste dogtertjie was ook nooit op ‘n sensitiewe trand deur my op sy skoot te tel of my te vat om ‘n rok te koop of so nie…maar ek en my pa het ‘n taal as ons saam boeremusiek speel, dan kan ek sien hoe trots is hy op my. Hy trek sy oë op ‘n spesifieke manier wat ek kan sien hierdie is nou vir hom so lekker om te speel. En daai is bv iets wat vir my die hemel afgemeet het, demonstreer het. Dit was my proeseltjies oor die goeie, die onverganklike.
My ma bak beskuit. Nie sommer net gewone beskuit nie…mosbeskuit wat hoog uitrys bokant die rand van die spesiale panne wat haar pa spesiaal vir haar gemaak het. Elke aand vandat ek kan onthou knie my ma beskuit. En ek het gewoonlik by haar in die kombuis gaan sit as sy dit doen. Daar was ‘n amper vertroostende gevoel in my hart as ek kyk hoe sy die deeg sorgvuldig bo-oor homself invou en ritmies al die randte na mekaar toe buig. Amper soos ‘n ma wat haar kind bad en roomsmeer en haartjies kam voordat sy hom in die bed sit en mooi warm toemaak. Hierdie bolletjie deeg is, as dit klaar geknie is, dan tussen die voue van ‘n dik oranje kombers en ‘n tweede pers een met satyn omboorsel gebêre en dan laastens, maar baie belangrik is daar ‘n warm watersak by die deeg gesit sodat hy deur die nag kan rys terwyl hy lekker slaap.
My ma se hande as sy elke klein bolletjie deeg in die pan bêre was my gunsteling deel om dop te hou. Sy het die sterkste voorarms en oulikste handjies en dit het ‘n gevoel in my hart geprik van ‘n veilige huis en tevredenheid. Dit was ook dan maw vir my soos die hemel wat aarde toe gekom het.
Die lied handel oor hierdie klein dingtejies, die egte dinge wat ek met my oog moet soek. Ek moet amper ‘n gaatjie met my oog kan maak sodat die hemel ‘n plekkie kan kry om aarde toe te kom en dit gebeur in die manier hoe ek na dinge kyk.
Ek sluit vir jou die lirieke in:

So baie dinge
geskryf deur Liani Reynolds

So baie dinge meet die hemel af,
daaglikse dinge wat in my murg kom lê
soos my pa se oë as hy die trekklavier speel
 of my ma se hande as sy mosbeskuit deel
 Dan het die hemel aarde toe gekom
en dit het my dan teruggeroep na hom.
So baie dinge roep in my
om hier, op hierdie aarde, tevredenheid te kry
 En met my oë prik ek al langs die pad
‘n gaatjie vir die hemel om in my skoot te kom lê
 Soos ‘n naald wat ‘n mat weef ryg ek elke dag
 hierdie daaglikse dinge aan die ryke ewigheid vas

Vlieërs

Die lied gaan oor hierdie spasie tussen goeie vriende waar daar ‘n naatlose ruimte en totale aanvaarding is. ‘n Plek waar jy kan stilraak omdat jy welkom daar is.
Dit dui ook op die Vryheid wat vlieërs het om te gaan waar die wind hulle waai en onder op die grond is die veilige hand van ‘n vriend maar meer as dit, in die hand van God, wat jou sal help dat jy steeds gegrond bly.
Agtergrond oor die lied:
Ek en Jacques het een aand by hom en sy vrou se huis gesit en besluit ons moet ‘n lied saamskryf. Sedertien is hierdie lied een van my gunstelinge en so lekker lied om saam met hom te sing.  

Vlieërs
geskryf deur Jacques de Villiers & Liani Reynolds
Tyd versteen in ritmes
as ek hoor hoe jy asemhaal
Die spasie word ‘n katedraal
en ek word stil.
Dis dieselfde hier, soos die erfdeel van die bome,
stuur jou pelgrimswortels soos diep as wat jy wil
Jy is welkom hier
En ek word Stil. En ek word stil.
Ek word stil, as jou siel onder my voete soos ‘n oop land lê,
Jy sien patrone in my sterre,
tussendeur my dorings wil jy my nog hê
Ons was soos vlieërs in drome, in die hand van die Môrester
Ons kon verder sien as wat ons oë wou toegee
en ons verwysing oor die heelal strek,
maar
daar is stilte hier, as die wind oor die aarde sweef
Ek was seker ek hoor hoe die heelal als vergeef toe ek besluit om net hier te wees.
En ek word stil

Herontmoeting

Die lied is geskryf twee weke na Tom Gouws se dood. Hy was vir my ‘n mentor , ‘n vriend, ‘n Vader en iemand wat my so goed geken het. Sy dood was vir my baie onverwags. Die lied beskryf hoe dit binne my gevoel het na hy weg is.
Agtergrond oor die liedjie Herontmoeting
Daar was net twee mense vir wie ek gevra het om ‘n lied te skryf vir die album. Jaco van der Merwe en Tom Gouws. Ek het ‘n wysie komponeer en Tom het lirieke vir hierdie wysie geskryf.
Hy was ‘n meesterlike digter in Afrikaans. En een van die dinge waarin hy so baie tyd ingesit het was om my te leer van skryf. Soveel keer het ek idees neergepen en dit vir hom gestuur. Sy kritiek was altyd baie reguit maar steeds liefdevol. Dit was vir my so voorreg dus dat hy lirieke skryf vir een van die liedjies op die album.
Hy het gedeel dat die lirieke wat hy skryf vir die album handel oor “Grond”, maar hy was nog nie klaar nie. Ons het oorgekom dat hy na die week van die 25ste Julie hierdie lirieke afhandel.
Dis swaar om oor Tom Gouws te skryf.
Hy het verlede jaar op die 25ste Julie gesterf weens ‘n inbraak in sy huis. Uit respek vir sy familie en kinders deel ek net my ervaring.
Die rekenaar met die liriek op is na die inbraak weg en ek het nooit gehoor wat hy geskryf het nie, maar dit was die laaste ding wat vir my saak gemaak het.
Na sy dood het ek gevoel asof ek op ‘n bootjie in die nag op ‘n ontstuimige see vaar. En dan het ek sy gedagtes en idees simbolies voorgestel in die lied as liggies wat ek pluk uit die sterrehemel op hierdie ontstuimige seevaart van my.
Ek het alles van hom probeer onthou en het hierdie magteloosheid ervaar om dit te contain. Ek wens ek kon hom nog naby hou.
Ek het sy idees en gedagtes, alles wat ek al by hom geleer het, soos liggies in flessies gebêre en dit styf langs my sy gebêre. Hierdie lampies het my begelei tot by ‘n kuslyn waar ek die grond weer kon ruik en die lug proe.
Op hierdie strand was hy besig om vis en heuningkoek te braai en ek en hy kon weer gesels en kuier soos altyd. Hierdie keer is dit net op ‘n ander plek, ‘n plek waar ek, al het ek nie meer toegang tot hom in die fisiese nie, toelaat dat sy voorbeeld van hoe hy geleef het iets word wat my ook soms soos ‘n liggie begelei na die strand.

Herontmoeting
Vir Tom Gouws geskryf deur Liani Reynolds
Ek vaar jou gedagtes binne, so geruisloos en so vry
ek pluk dan idees soos liggies
en bêre dit in flessies so styf langs my
en ek maak dan vir my lampies om die vreemde te verlig,
want ek is ‘n seevaarder
wat die sterre gebruik om die donker see te verdig
En op hierdie onbekende reis
word my boot soos die ark wat my veilig hou
totdat al die baie water opraak
en my voet kan rus aan die kus van jou land
en ek ruik die grond,
en ek proe die lug,
en ek hoor die lewe op jou strand
en ek maak dan vir my lampies om die vreemde te verlig,
want ek is ‘n seevaarder wat die sterre gebruik om die donker see te verdig
Sal jy dan ook hier, in die onbekende land, heuning en vis kom eet in ons herontmoeting op die sand.

Groen

Ek het een nag ‘n droom gehad van ek wat op ‘n ysmeer loop en ‘n lied soek wat weggesteek is.
Op hierdie journey in die droom moes ek versigtig soek agter bome en doringbosse totdat ek daar in die mees weggesteekte hoekie ‘n sleuteltjie vind wat in my droom die lied was.

Hierdie het my inspireer om die lied Groen te skryf en ek het dit spesifiek vir my man, Kalla geskryf.

Die lied gaan oor hierdie quest na ‘n plek waar jy vry is, tevrede is, die meeste jouself is. Soos wat dit voel in jou hart as jy buitekant in ‘n groen oop grasveld sit…daar is mos ‘n asemhaling en ‘n ‘tot-rus-kom” in so prentjie.

Die Groen is vir elke mens iets anders. Dis jou hemel. Dit wat jy voel die lig is en ons het elkeen ‘n ander manier van doen om daar uit te kom of om daarbinne te bly. Dis as jy jou lied ontdek.
Dan is daar die grys.
Dis die ruimte in jou hart wat teenoor die groen staan.
Vir my is dit die dae wat dit moeilik is om die hoop styf vas te hou. Die dae wat jy voel jy het kortgekom. Die dae wat jy voel jy is of was nie genoeg nie en wat dit vir jou voel jy gaan nooit weer die lied kry nie. Op sulke dae voel die reis moeilik.

Die waarheid bly egter dat binne elkeen van daardie twee valleie skuil jou lied..soms sien jy dit maklik vir jou wink en soms is die weg daarheen so moeilik dat dit voel of jou voete brand soos vuur. Dis dan wanneer ons die waarde besef van hulle wat altyd langsaan staan en ons aanmoedig.

Ek het die lied vir Kalla geskryf omdat hy altyd daar is.
In die groen en die grys is hy altyd daar, besig om my aan te moedig, in my te glo en nooit moeg te word om die hoop oor my vas te hou nie.
Kalla is ‘n dromer. ‘n Dromer oor die Groen.

Groen
Vir Kalla geskryf deur Liani Reynolds
Diep in ‘n grys vallei,
het daar ‘n lied geval
Weggesteek by ‘n fontein,
ek moet die lied gaan haal,
maar die weg daarheen is moeilik en my voete brand soos vuur, op ‘n onbekende roete, bly ek my vasloop teen ‘n muur Daar is ‘n tuin in my verbeelding
en in my hart groei ‘n boom
In hierdie boom, vind ‘n swaeltjie skuiling
en sy klare-blare droom
Daar is ruimte in sy spasies en alles is versoen
Dit bied ‘n uitsig oor die strome
en ‘n lied wink in die Groen
En in die grys vallei het jy saam met my geloop
en al was ek kleingelowig het jy geweet waar ek behoort
En ook in die Groen was jy by my,
jy’t ‘n droom vir my gehad
En jou drome word die sweeftuig
waarop ‘n lied uit die Groen ontwaak

Vir bemarking en media navrae kontak
 info@starburstmusic.co.za
                 
© Kopiereg Liani Reynolds - Alle regte voorbehou.